Woolworths winste styg na verkoop van Avo Toebroodjie
Die aandeelprys het 4,2% gestyg. 'n Tweede toebroodjie word reeds voorberei.
Sakkie Kleingeld ·

Aandeelpryse van Woolworths Holdings (WHL) het Donderdagmiddag met 4,2% op die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) gestyg na die suksesvolle transaksie van ’n enkelpakkie ryp avokado-en-spinasie op lae-GI-saadjiebrood by die tak in Nicolway, Bryanston. Die aankoop, wat omstreeks 11:47 deur middel van ’n kontaklose kaartfasiliteit afgehandel is, het die kleinhandelaar se winsgrens vir die derde kwartaal onmiddellik in die groen gestoot.
Markontleders beskryf die transaksie as ’n waterskeidingsoomblik vir die groep se voedselafdeling. "Ons het lank gewag dat hierdie spesifieke voorraaditem van die rak af kom," sê Dawie van der Merwe, senior portefeuljebestuurder by Sasfin Securities. "Die likiditeit wat dit dadelik na die balansstaat bring, stel die direksie in staat om hul buitelandse skuldverpligtinge gedeeltelik te delg en die interim-dividenduitbetalings vir aandeelhouers te hervat."
Volgens ’n maatskappywoordvoerder, Elize Brink, het die koper nie vir ’n kwitansie gevra nie en is die transaksie sonder voorval afgehandel. "Ons beplan om die netto opbrengs aan te wend vir die opgradering van ons nasionale logistieke netwerk," lui die amptelike verklaring. Brink het bygevoeg dat die groep versigtig optimisties bly oor die vierde kwartaal, aangesien ’n tweede toebroodjie reeds voorberei word vir die tak in Constantia Village teen middel November.
Lees ook
Kry Brekende Nuus via E-pos
Ons stuur dit sodra ons dit versin het.
Ons stuur net die nuusbrief. Jy kan enige tyd uitteken.



