satire s.nw. die gebruik van humor, ironie, oordrywing of bespotting om mense se onnoselheid bloot te lê en te kritiseer, veral in die konteks van kontemporêre politiek en ander aktuele kwessies.

Politiek

Poskantoor blameer Poskantoor nadat uitsettingsbevel nie afgelewer is nie

Vorm B-12 is reeds ingedien om 'n formele klag teen die Poskantoor aanhangig te maak.

Tieties Prinsloo ·

Die binnekant van 'n verlate poskantoortak met leë toonbanke en toustaanlint.
Foto: Flash Potgieter

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor se tak in Krugersdorp-Wes is Dinsdagoggend gesluit nadat die balju beslag gelê het op die perseel weens R142 850 se agterstallige huur. Volgens die Poskantoor se bestuur kon die krisis egter verhoed gewees het indien die geregistreerde hofbevel hulle betyds bereik het.

Volgens die nasionale woordvoerder, Sipho Ndlovu, ondersoek die entiteit tans die diensverskaffer wat vir die aflewering verantwoordelik was. Die finale aanmaning is op 14 November verlede jaar by die Witpoortjie-sorteersentrum geregistreer onder spoornommer RC904221884ZA, maar het volgens die stelsel nog nie die plaaslike toonbank bereik nie.

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat ’n openbare instelling se bedrywighede ontwrig word deur die swak dienslewering van die nasionale posdiens,” het Ndlovu gesê. “Ons het reeds Vorm B-12 ingedien om ’n formele klag teen die Poskantoor aanhangig te maak. Ons wag tans op ’n skriftelike verduideliking van hul kliëntediensafdeling.”

Die tak se vier personeellede en ongeveer 38 pensioentrekkers wat sedert 05:30 buite in die ry gestaan het, is na die Roodepoort-tak herlei. Ndlovu het bevestig dat die Poskantoor van plan is om die uitsettingsbevel in die Hooggeregshof ter syde te stel sodra die fisiese kennisgewing per geregistreerde pos ontvang en geprosesseer word.

Lees ook

Kry Brekende Nuus via E-pos

Ons stuur dit sodra ons dit versin het.

Ons stuur net die nuusbrief. Jy kan enige tyd uitteken.