satire s.nw. die gebruik van humor, ironie, oordrywing of bespotting om mense se onnoselheid bloot te lê en te kritiseer, veral in die konteks van kontemporêre politiek en ander aktuele kwessies.

Lewe

Man verloor storielyn van film nadat sy vrou hom heeltyd vra wat nou gebeur het

Veertien vrae in die eerste 45 minute. Teen minuut 63 het hy nie meer geweet in watter land die karakters is nie.

Jurie Nalis ·

'n Man sit alleen op 'n bank in 'n sitkamer snags, met 'n afstandbeheer in sy hand en die gloed van 'n TV op sy gesig.
Foto: Flash Potgieter

'n Inwoner van Wierdapark in Centurion het Vrydagaand omstreeks 21:40 die storielyn van 'n 114-minute lange spioenasieriller heeltemal byster geraak, nadat sy vrou hom binne die eerste 45 minute 14 agtereenvolgende vrae oor die intrige gevra het.

Mnr. Frikkie Botha (42) het die uitsending om 20:30 saam met sy eggenoot, Ronel (39), begin kyk. Volgens 'n rekonstruksie van die gebeure het die eerste ontwrigting op minuut 12 plaasgevind toe sy gevra het hoekom die man in die swart jas kwaad is vir die polisie.

Terwyl Botha die agtergrond van die karakter verduidelik het, het hy die sleuteldialoog gemis waarin onthul is dat die man glad nie 'n polisieman is nie, maar 'n dubbelagent. 'n Daaropvolgende vraag om 20:51 oor die eienaarskap van 'n metaaltrommel het tot verdere inligtingsverlies gelei.

Teen die 63ste minuut het Botha na berig word nie meer geweet in watter land die karakters hulle bevind nie, en het hy verkeerdelik aanvaar die hoofkarakter se broer is reeds oorlede.

"Ek het net gevra wie die man met die bril is, want hy het gelyk soos my neef Danie van Klerksdorp," het mev. Botha gesê. "As Frikkie behoorlik gekonsentreer het, sou hy geweet het die vrou werk eintlik vir die ambassade."

Botha het bevestig dat hy die laaste 25 minute van die film in stilte deurgebring het en bloot gekyk het hoe die motors jaag.

Die film het om 22:24 geëindig. Botha beplan nie om die heruitsending te kyk nie.

Lees ook

Kry Brekende Nuus via E-pos

Ons stuur dit sodra ons dit versin het.

Ons stuur net die nuusbrief. Jy kan enige tyd uitteken.