Tannie Marinda laat weet via WhatsApp: "Die wêreld is gef#k!"
Die boodskap het om 04:47 gekom, vergesel met agt rooi waarskuwingsikone. Die skoonseun is om 05:12 geblok.
Jurie Nalis ·

Die stand van internasionale sake het Donderdagoggend om 04:47 'n skerp wending geneem toe tannie Marinda du Plessis (61) van Nigel 'n dringende verklaring aan die familie-WhatsApp-groep uitgereik het. Volgens die teksboodskap, vergesel met agt rooi waarskuwingsikone, is die wêreld amptelik "gef#k".
Die vrystelling het gevolg op 'n skakel na 'n video met 214 kyke waarin 'n onbekende man in 'n bakkie praat. Du Plessis het die berig kort daarna opgevolg met 'n stemboodskap van nege minute waarin sy teen die agtergrond van 'n fluitende ketel bevestig het dat "alles nou uitkom" en dat niemand kan sê sy het hulle nie gewaarsku nie.
Die verwikkeling het gemengde reaksie onder die groep se 23 lede ontlok. Haar oudste suster het met 'n duim-op-emoji gereageer, terwyl 'n neef gevra het of die naweek se braai nog aan is. Du Plessis se skoonseun, wat 'n skakel na 'n feitekontrole-webwerf gedeel het, is om 05:12 van die groep verwyder en summier geblok. 'n Skoondogter het die groep om 05:18 stilswyend verlaat.
Op 'n mediaversoek om duidelikheid oor die presiese aard van die krisis en watter stappe die publiek nou behoort te neem, het Du Plessis per SMS geantwoord: "As julle nie self navorsing wil doen nie, gaan ek dit nie vir julle aanpak nie."
Lees ook
Kry Brekende Nuus via E-pos
Ons stuur dit sodra ons dit versin het.
Ons stuur net die nuusbrief. Jy kan enige tyd uitteken.







