News24 moet jammer sê vir AfriForum
Die redaksie het besluit dat ons nou nie elke keer 'n nuwe artikel gaan skryf as News24 vir AfriForum moet jammer sê nie, so ons hou die berig hier.
Tieties Prinsloo ·

Die redaksie van Die Transvaler het vandeesweek besluit om die berig oor News24 wat amptelik om verskoning vra aan AfriForum, permanent bo-aan die webwerf se nasionale afdeling te anker. Die besluit volg ná ’n interne doeltreffendheidsoudit deur die digitale span.
Volgens ’n interne memo wat Maandagoggend om 08:14 aan die subkantoor uitgestuur is, het die herskryf van basies dieselfde berig die afgelope agtien maande altesaam 74 werksure in beslag geneem. “Die patroon bly konstant,” sê die senior produksieredakteur, Kobus Venter. “Daar is ’n berig, ’n regsbrief, ’n bevinding deur die Persombud, en dan ’n formele terugtrekking. Dit maak net nie logistieke sin om elke keer van voor af te begin tik nie.”
Die nuwe stelsel gebruik ’n vaste raamwerk met ’n vooraf geselekteerde argieffoto van AfriForum se hoofkantoor in Centurion en ’n oop veld vir die betrokke datum. Toetse dui daarop dat redaksionele foute met tot 90 persent afgeneem het sedert die bewoording gestandaardiseer is.
Die bladsy sal voortaan elke tweede Donderdag omstreeks 14:00 outomaties herlaai om te verseker dat die tydstempel akkuraat bly, ongeag of die jongste regstelling reeds formeel gepubliseer is of nog in die konsepstadium by die regsafdeling lê.
Lees ook
Kry Brekende Nuus via E-pos
Ons stuur dit sodra ons dit versin het.
Ons stuur net die nuusbrief. Jy kan enige tyd uitteken.



